Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê. (vers 4)
Hierdie profesie kom uit ’n tyd toe die al slegter met Juda gegaan het. Die skrif was eintlik al teen die muur. Miga bevestig dit in vers 14. Oral is die boosheid en onreg duidelik sigbaar, soos Miga in hoofstuk 1 uitwys.
Dit klink so half bekend, nie waar nie? Die wêreld om ons stuur op ’n ramp af, en ’n mens wonder waar dit alles gaan eindig. Jy wil jou hande in die lug gooi en moedeloos op ’n hopie gaan sit.
Dis die een kant van ons realiteit. Daar is egter ook ’n ander kant, en dis waaraan Miga ons herinner: die realiteit van God se regering en die sekerheid van die toekoms, waar vrede sal heers omdat God in beheer is en sy woord en wil bekend is.
Ons kan nou reeds iets van dié vrede in ons eie lewens ervaar, omdat ons in God se teenwoordigheid leef. En wanneer ons vanuit dié vrede leef, maak ons nou al die toekomstige vrede in die wêreld sigbaar. Ons lewens is die vensters waardeur die wêreld die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, kan sien.
Views: 24