Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie [ … ] en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel … (2 Kron 6:32-33)
Salomo se gebed by die inwyding van die tempel help ons om te verstaan waarvoor die tempel daar is. Enersyds was dit net ’n tempel wat onmoontlik God kon bevat (vers 18). Andersyds het God die tempel met sy teenwoordigheid geseën (vers 6), wat die tempel ’n heilige simbool gemaak het.
Hierdie gebalanseerde siening van Salomo het ongelukkig later in die slag gebly. In Jesus se tyd het die Jode dit as meer as net ’n gebou gesien, en waar Salomo die tempel as ’n gebedshuis vir al die nasies beskou het (vers 32-33; vgl ook Jes 56:7), het Herodes se tempel ’n ekstra voorhof vir die heidene gehad. Verder as dit durf nie-Jode nie gegaan het in Jesus se tyd nie. Ongelukkig het veral die priesters die tempel vir dinge anders as gebed gebruik; ’n rowersnes, sê Jesus (Mark 11:17).
Vandag moet die kerk steeds ’n wegwyser na God wees; ’n aanbiddingsplek waar almal welkom is.