Die woord van die Here het tot my gekom: “Waarom gebruik julle in die land Israel hierdie spreekwoord: ‘Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp’?” (Eseg 18:1-2)
Die lewe is nie regverdig nie. Jy weet dit. In Adam Small se gedig “Die Here het gaskommel” beskryf hy die skeefheid van die lewe treffend: “die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval vi’ ons …” Dis hoe die ballinge ook geredeneer het: hulle sit met die gemors wat hulle ouers veroorsaak het (vers 2).
Só ’n slagoffer-mentaliteit bring jou egter nie ver nie. In Small se gedig word dit die verskoning vir verkeerde keuses. En in Esegiël se tyd sit die ballinge hulleself en bejammer.
Dalk het die dice vir jou ook verkeerd geval. Wie blameer jy vir jou probleme? Esegiël sê jy kan nie jou eie ellende net so op jou ouers pak nie. Jy is self verantwoordelik voor God vir jou keuses (vers 4b-5). As jy met integriteit en opregtheid voor die Here leef, tel jou agtergrond nie, en jou ouers se verkeerde keuses ook nie. Gryp God se aanbod aan: Hy wil dat niemand moet sterf nie. Hy wil dat jy leef (verse 23 en 32).