Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak. (vers 1)
’n Belangrike aspek van Openbaring is dat Johannes nie met ’n tydlyn werk in die sin dat die gebeure kronologies op mekaar volg nie. Hy gebruik eerder ’n sikliese struktuur, waarin hy telkens terugkeer na dinge waarvan hy vroeër ook geskryf het, en dan belig hy dit duideliker. Die sewe trompette in hoofstuk 8 en die sewe wraakbakke (hoofstuk 16) oorvleuel met die sewe seëls en brei daarop uit.
Die eerste vier seëls (die perde) beskryf die verwoestende invloed van die sonde op aarde: oorlog (wit), opstand en rebellie (rooi), hongersnood (swart) en die dood (vaal perd). In die vyfde seël verskuif die blik na die hemel, waar die ontslape martelare pleit dat die einde moet kom ter wille van die eer van God. Dan kom die sesde seël wat die einde van die skepping as ’n kosmiese ramp beskryf.
Tog ruk die gebeure nie hand-uit nie. Dit is immers die Lam self wat die seëls oopmaak en die gang daarvan beheer. God sal uiteindelik die goddeloses straf, maar Hy bewaar sy kinders (vers 9-11; kyk ook na Op 7).
Vir gelowiges wat vervolg word, is dit ’n groot troos.
Views: 29