… wees altyd ywerig om die Here te dien; dan sal jy ’n toekoms hê en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. (vers 17-18)
Liewe Jemen
Ek is so bly om te hoor dinge tussen jou en Abimeleg is nou beter as ooit. Ek het geweet dit sal regkom, want ek ken mos vir jou.
Interessant dat jy skryf dat jy die hele tyd geweet het die Here sien alles, en dat dit jou gehelp het om die regte ding te doen. Dis wat vir my so ongelooflik is van die Here se teenwoordigheid. Dit bring geborgenheid, nie waar nie?
Dit kon so anders gewees het. Ek onthou nog goed ’n voorval uit my kinderdae. Ons klein prinsies het ’n verskriklike kwaai onderwyser gehad. Sy bynaam was ou Kats. Ons het baie by my pa gekla oor hom, maar Pa wou niks verkeerds van hom hoor nie. Hy het net gesê as ons nie stout is nie, sal ons nie in die moeilikheid kom nie. In elk geval, ou Kats het die manier gehad om vir ons werk te gee, en dan het hy geloop. En dan sit ons daar in die binneplein, en ons weet ou Kats staan iewers op ’n balkon vir ons en dophou. En bewaar jou siel as jy gesels of iets anders as jou werk doen. Sy bynaam was nie verniet ou Kats nie!
Gelukkig is die Here nie soos ou Kats nie, nè. Hy kyk ook na ons, maar nie om ons vas te trap en te straf nie, maar om ons op te pas en voor te keer as ons op die verkeerde pad is. (Dis nou vir ons wat sy kinders is. Die goddeloses het nie dié voorreg nie; hulle braai in hulle eie vet.)
Koester jou elke dag in die Here se teenwoordigheid, Jemen. Dit bring geborgenheid en rustigheid in ’n gekke wêreld.
Jou geborge vriend, Salomo
Views: 13