Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie. (vers 18)
Satan se bluf het nie lank gehou nie. Met die derde plaag (’n beter vertaling is dalk “teken” of “wonderteken”, want met natuurlike rampe het hierdie gebeurtenisse weinig in gemeen) gooi die towenaars die handdoek in. Hulle erken selfs dat dit God se werk is (vers 19).
Ook farao begin dit besef. Waar Moses nog met die paddas aanbied om tot God te bid vir verligting, is dit die farao self wat met die steekvlieë vra Moses-hulle moet vir hom bid (vers 28).
Die deurbraak in die onderhandelinge kom egter nie, al lyk dit of die farao begin swig. Want daar is niemand so blind soos hy wat nie wíl sien nie. Dit is die verskrikking van die sonde en Satan se houvas op mense. Ons lees daarvan in Openbaring ook (Op 16:9). Die mens is nou maar eenmaal ’n baie koppige skepsel.
Dat ek en jy in die lewende God glo, is louter genade. Sonder die Gees se werk in ons sou ons ons net so hardkoppig teen God verset het.
Views: 2