Die Here het […] gesê: “Gaan deur die stad, deur Jerusalem, en maak ’n merk op die voorkoppe van almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” (Eseg 9:4)
Die ooreenkoms van vers 4 met Eks 12 is ooglopend: dáár is die huise met bloed op die kosyne oorgeslaan, en hier word dié wat met ’n merk op die voorkop gemerk is, oorgeslaan. Interessant dat die merk, die Hebreeuse letter “tau”, destyds as ’n X geskryf is. Vroeë Christene wys op die ooreenkoms met die † van die Christendom. Beide tekens wys op God se genade en verlossing van sondaars.
Die gemerktes was dié wat geprotesteer het teen die “enorm groot” afskuwelikhede van hulle tyd (vers 9). Die merk is nie lukraak aangebring nie. God se genade is bedoel vir hulle wat gesug en gekla het oor hulle eie sonde en dié van ander. God verwag van ons om nie maar net alles wat verkeerd is in ons wêreld, gelate te aanvaar nie. Te dikwels bly ons stil omdat die oormag van die kwaad so oorweldigend is. Almal doen dit, dink ons dan. Dit sal tog nie ’n verskil maak nie. Esegiël sê dat dit in God se oë ’n groot verskil maak.
Views: 48





