Die amptenare sê toe vir die farao: “Hoe lank gaan dié man nog vir ons moeilikheid gee? Laat hulle nou maar gaan om hulle God, die Here, te dien, maar net die mans. U sien tog dat Egipte te gronde gaan.” (vers 7)

Twee sake word al duideliker in die berigte oor die plae wat Egipte getref het. Die eerste is dat God baie groter is as wat die farao ooit vermoed het. Die grootheid van God wat in hierdie gebeurtenisse duidelik blyk, vorm ’n hoeksteen van Israel se geloof. Die Here het juis hierdie geleentheid gebruik om Homself aan sy mense te openbaar (vers 1 en 2). Dikwels in die res van die Bybel word na hierdie gebeure terugverwys.

Die tweede is die opperste hardkoppige sotheid van die farao, wat eerder sal sien hoe sy land en sy mense vernietig word as wat hy sal erken dat hy verkeerd is. Almal om hom, ook sy raadgewers, sien in dat dit futiel is om God te weerstaan. Maar nie die farao nie! Hy bly hardnekkig weier.

Dit is natuurlik moeilik om te erken dat jy ’n oordeelsfout gemaak het. Vandag nog sukkel baie mense daarmee. Die dwaasheid van só ’n houding is duidelik in hierdie hoofstukke.

image_pdfimage_print

Views: 12

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.