Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.” (vers 20-21)
Ons kom hier aan die einde van die eerste groot deel van Eksodus. Die verhaal het begin met die berig van ’n paar dapper vroue wat die farao se gesag uitgedaag het – die Hebreeuse vroedvroue (1:17) en Moses se ma Jogebed (2:2). En die eerste deel van die boek sluit af met die vertelling van Mirjam wat al die vroue saamneem in ’n loflied tot eer van die Here (15:21).
Dis merkwaardig dat vroue so prominent is in ’n patriargale kultuur wat eintlik net mans geag het. Dit sê iets van die besondere plek wat vroue in God se Raadsplan het. Dit sê ook dat gelowiges nooit só diep in die kultuur van die dag mag insak dat die kultuur belangriker word as die mense nie.
Dit is ook hoekom Jesus soveel tyd vir vroue gehad het. Lees gerus oor sy optrede in Joh 4, veral Joh 4:27.