”Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here. (Jer 9:24, 2020-vertaling)
Ons dink iemand het aangekom as hy of sy geleerd is, tot die adelstand behoort, ryk is, invloedryk is, of ’n superster is in die vermaaklikheidbedryf. In Jeremia se dae was dit nie anders nie. Wysheid, mag en rykdom was destyds ook kriteria waaraan mense gemeet is (vers 23). Jeremia waarsku dat dit alleen nie grootsheid bring nie. Ware grootsheid lê daarin dat jy God ken en soos Hy wil wees; en daarom jou vreugde vind in dit wat vir Hom belangrik is: troue liefde, reg en geregtigheid. Dis hoe God is, en dit is die kwaliteite wat tel – troue liefde, reg en geregtigheid, in skrille kontras met dit wat die wêreld najaag.
In 1 Kor 1:25-31 sluit Paulus in soveel woorde by hierdie uitspraak van Jeremia aan (vgl ook 2 Kor 10:17-18). Geleerdheid, wysheid of aansien volgens wêreldse terme tel nie punte by God nie. Om met Christus verenig te wees – dís waarop ons moet fokus (1 Kor 1:30).
Views: 8