Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. (vers 3)
Die rede hoekom Paulus ’n relatief groot deel van sy brief aan die kwessie van weduwees afstaan, is tweërlei. Eerstens was die versorging van weduwees altyd ’n belangrike saak vir God se mense. Daar is in die Ou Testament verskillende wette wat die posisie van die weduwee beskerm teen uitbuiting (Deut 10:18; 24:17; Jes 1:17); God is immers self die regter van die weduwee (Ps. 68:6). Andersyds was daar destyds baie weduwees in die samelewing omdat vrouens meestal heelwat jonger as hulle eggenote was, en ook omdat die onstuimige en onveilige tye (oorloë, reise ens) dikwels mans ontydig laat sterf het.
Paulus gee hier heelwat raad oor hoe dié weduwees gehelp moet word, en wanneer. Twee sake staan vir my uit: Dié wat gehelp word, moet regtig op die kerk se hulp aangewese wees (vers 3). Die kerk se bronne moet verantwoordelik aangewend word en mag nie misbruik word nie. Te dikwels versaak kinders hulle plig teenoor hulle bejaarde ouers (Eks 20:12) sodat die kerk moet ingryp!
Tweedens beteken dit nie dat ontvangers van alimentasie tot bedelaars gedegradeer mag word nie. Hulle kan steeds ’n rol speel in die gemeente, vandaar die lys van dienende weduwees (vers 9).
Views: 6