Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was … (vers 14)
Die heel eerste ding wat Moses moes leer toe God in die brandende bos aan hom verskyn het, was dat God heilig is en dat hy op ’n afstand moes bly (Eks 3:5). Dis wat Israel ook moes leer. Hulle kon nie sommer so ongeërg voor God verskyn nie. Hulle moes hulleself reinig en hulle klere was.
Ons leef genadiglik in ’n ander tyd. Die Here Jesus se versoening maak dit nou moontlik dat ons sonder skroom voor die lewende God kan verskyn; trouens, ons word aangemoedig om dit te doen (Heb 4:16; 1 Joh 5:14). Jesus het vir ons hierdie reg by God verdien.
Dit beteken egter nie dat ons op enige manier familiêr met God mag omgaan nie. Hy is steeds die Heilige van Israel voor wie ons dit alleen met die grootste ontsag en beskeidenheid durf waag. Ons is immers simil iustus et peccator (tegelyk regverdig en sondaar), soos Martin Luther sê.
Ons leef dus met hierdie dualisme, soos Ps 2:11 dit so treffend stel: “Julle moet die Here met ontsag dien,
Hom met vrees en bewing toejuig …”