Na ’n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. (Hand 24:24)
Wat ’n fantastiese geleentheid vir Paulus om die evangelie van Jesus Christus aan die goewerneur te verkondig! En wat ’n wonderlike kans vir Feliks en Drusilla om tot geloof te kom, begelei deur die groot sendeling van die vroeë kerk! Ek glo Paulus het die kans met beide hande aangegryp.
Wat sou jý vir die twee vertel het? Dat Jesus vir hulle sonde gesterf het, en dat hulle vergifnis kan kry as hulle hulle skuld bely? Sekerlik sou Paulus dít vir hulle vertel het. Maar hy doen meer as dit, want hy wil hulle in geen illusie laat verkeer oor die eis van die evangelie nie. Daarom vertel hy hulle ook dat Christenskap ’n lewe van gehoorsaamheid aan God en selfbeheersing verg, en dat daar ’n oordeelsdag sal aanbreek (vers 25).
Navolging van Christus is geen vakansietrein na die ewigheid nie. Dit vra offers, en vereis van ons om onsself te verloën. Daartoe was Feliks helaas nie bereid nie. So het hy die kans van ’n leeftyd gemis.
Hoe gaan dit met jóú navolging?
Views: 17






