’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand … (vers 23-25)
Hoofstuk 20:22 – 23:33 word die “Bondsboek” genoem; dit vorm die kern van Israel se wette, en bestaan uit burgerlike wette wat gebaseer is op die tien gebooie. Ons hele lewe moet in ooreenstemming met God se wil wees. Vir Ou Israel was daar nie ’n verskil tussen jou lewe as gelowige en jou lewe as Israeliet nie. Alles is gereël deur God se bepalings.
Die reëling oor “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand” was nie bedoel as verlof dat elkeen die reg in eie hande kan neem en vergeldend kan optree nie. Dit was ’n riglyn vir regters oor hoe om vonnisse op te lê in die regspraak. Dit staan in skerp kontras met die soort vergelding wat dikwels onder die antieke volke gegeld het. Lameg se uitspraak (Gen 4:23-24) is daarvan ’n goeie voorbeeld.
Die Here Jesus was wel krities oor hierdie reëling, en sê in Matt 5:38-40 dat ’n volgeling van Hom nie vergeldend mag leef nie. Ons het immers ’n Vader wat na ons kyk.
Dit moet ons minstens twee keer laat dink voordat ons met hofsake ons sake probeer reël.
Views: 0