As hy My hieroor aanroep, sal Ek na hom luister, want Ek is barmhartig. (vers 27)
Hierdie hoofstuk is vandag nog net so relevant soos destyds. Dink maar aan veediefstal, of inbraak. Dink aan die uitbuiting van die weerloses – die armes, die weduwees, die vreemdelinge. Oor die ganse lewe staan een feit soos ’n paal bo water: God het alles met alles te make. Hy gee om vir die veronregte, vir die een wat beroof is, vir dié wat skade gely het. Hy is immers die barmhartige God.
Hoor hoe kom Hy op vir die weduwee en weeskind: sy toorn sal ontvlam oor die onreg (vers 22-24). En vir die arme tree Hy in die bres (vers 27).
God vat dit alles mooi saam in vers 31: “Julle moet mense wees wat aan My gewy is.”
Ons sien hierdie karaktertrek van God baie goed geïllustreer in die lewe van Jesus. Daarom tree Hy in die bres vir die vrou wat in sonde geval het (Joh 8:1-11). Daarom stuur Hy nie die mense honger weg nie (Matt 14:13-21). Daarom ontferm Hy Hom oor siekes en gebreklikes en melaatses, want Hy is barmhartig.
Hierin moet ons Hom volg. Hy sê in Lukas 6:36: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”