Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand. (vers 20)
Partykeer hoor ’n mens iemand sê: “God het my nou eenmaal so gemaak en so gelaat staan.” Daarmee verontskuldig die persoon hom- of haarself vir swak gedrag, laksheid, onbedagsaamheid, noem maar op. Asof dit God se skuld is!
As ’n mens vers 20 lees, sien jy dat God nie sommer met enige olyfolie tevrede is nie. Net die beste is goed genoeg. Net óns beste is goed genoeg. Die Gees is immers besig om ons te verander om soos die Here Jesus te word (2 Kor 3:18). Dís wat God vir ons beoog. Om die heel beste te wees wat ons kan. Soos Jesus! Geen verontskuldiging sal werk nie; nie as ons God wil eer nie.
Wat die opdrag verder betekenisvol maak, is dat die Israeliete die olie moet bring. God, wat water uit ’n rots kan laat vloei, wat manna en kwartels kan stuur, kon mos maklik die olie voorsien het. Maar dis nie hoe dit werk nie. Ek en jy moet self die bydraes lewer. Dít is vir die Here aangenaam.
Views: 4