Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. (vers 15)
Die mense het destyds niks van volkstellings gehou nie, want dit het óf gegaan oor hoeveel weerbare mans daar was om oorlog te maak (Num 1:3), óf oor hoeveel mense belasting kon betaal (bv die volkstelling met Jesus se geboorte).
Hierdie volkstelling was moontlik vir militêre diens (vandaar die vrees vir ’n ramp vir dié wat getel word), maar God gebruik dit om die inrig van die tabernakel te befonds. Die ses gram silwer (’n baie klein bedraggie, in vandag se geld net ’n paar rand) was ’n versoeningsoffer vir die Here.
Interessant dat ryk en arm presies dieselfde bedrag moes gee. Dit was ’n eenmalige offer, nie soos ’n dankoffer waar elkeen volgens vermoë bydra nie (vgl 2 Kor 8:3; 9:7). Ons het almal genade en vergifnis nodig as gevolg van die dinge wat ons doen. Geen ryk mens kan die Here “omkoop” en geen arme kan betaling vryspring nie. Hy verwag dat ons almal nederig tot Hom sal kom om vergifnis te ontvang en deel van sy familie te word.