Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is.” (vers 22)
Aäron laat my aan Adam en Eva dink toe God hulle uitgevang het in die Tuin van Eden. Sélf was hulle onskuldig; dis die ander wat opgemors het. Dit is ongelukkig soos mense (ons ook!) is – gou om ’n ander die skuld te gee sodat jyself blaamloos kan wees. Aäron pak alles op die volk. Sy eie aandeel was eintlik baie klein. Só redeneer hy. Hy het maar net die goud in die vuur gegooi, toe kom daar as ’t ware vanself ’n kalf uit!
’n Mens kom nie ver met sulke verskonings voor God nie. Adam en Eva moes uiteindelik die skuld van hulle opstand dra, en Moses koop nie Aäron se verskonings nie. Aäron het die volk op loop laat sit, sê vers 25.
Anders as Aäron gooi Moses nie sommer die volk weg en maak hulle af as sleg nie, al het hy alle rede gehad. Nee, ten spyte van die gruwelike sonde wat hulle aangevang het, pleit Moses vir hulle by God. Dít is ware grootheid: om nie net aan jouself te dink nie. Soos Jesus ook gedoen het. Lees gerus hoe Paulus daaroor praat in Fil 2:3-5.