Ons het in die erediens nie ’n ander gewoonte nie, en die ander gemeentes van God ook nie. (vers 16)
Paulus praat in hierdie hoofstuk oor die probleme wat daar in Korinte se eredienste opgeduik het. Hy begin deur te verwys na die feit dat die vroue in die gemeente nie, soos die kulturele gebruik van destyds, met hoofbedekkings kerk toe gekom het nie. Dit was nie hoedens soos ons dit ken nie, maar iets tussen ’n sluier en ’n hoofversiering.
Paulus was sensitief daarvoor dat die gemeente nie die naam moes kry dat hulle die bestaande kultuur uitdaag en uittart nie, want dit sou rampspoedige gevolge hê vir hulle getuienis na buite. Vroue wat nie hulle hare bedek het nie, is in daardie tyd gesien as promisku, aangesien dit prostitute was wat so verskyn het.
Ons kulturele gebruike vandag verskil hemelsbreed van dié van Korinte, en daarom moet ons versigtig wees om nie te maklik afleidings te maak oor wat Paulus hier leer nie. Wat ons wel kan sê, is dat Paulus ons daarop wys dat dinge in die kerk ordelik moet verloop, met respek en agting vir mekaar en vir die verskillende rolle wat ons van God ontvang het.
Views: 23