Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. (vers 3-4)
Die evangelie oor Jesus Christus vorm die hart van die geloof, sê Paulus. Die boodskap van Christus se kruisdood en opstanding is die anker waaraan ons moet vashou in ’n wêreld wat baie ánder dinge as goeie nuus verkondig, want hierdie nuus kan jou red (vers 2). As jy aan iets anders vashou, het jy tevergeefs tot geloof gekom. Geloof vra dat ons die boodskap van God se verlossing in die Here Jesus met albei arms moet omhels.
Ons is baie meer aangegryp deur Jesus se dood as deur sy opstanding. Ons fokus baie meer op sy sterwe vir ons sondeskuld, as wat ons gewillig is om met vreugde sy navolgers te wees, nuut te lewe, oorwinnend te lewe. Ons steek in ons geloofslewe vas by die kruis.
Die evangelie roep ons op om óp te staan van ons knieë en jubelend agter Jesus, die Oorwinnaar oor sonde en dood, aan te loop. Om in sy krag nuut te leef met die mense om jou, in die gemeente, in jou werk.
Views: 78