Gee jou seun ’n goeie opvoeding en jy sal gerus wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf. (vers 17)
My liewe Jemen
So het Adoniram nou ook groot geword. En laat ek jou maar waarsku: as jou seunskind eers na die meisies begin kyk, ís hy groot. Een van die dae wil hy trou, en dan is hy uit die huis, en sal jy hom nooit weer hê soos nou nie.
Dis natuurlik nie iets om oor treurig te wees nie. Dit is soos die Here ons gemaak het; ’n gawe van God self wat ons ten volle mag geniet. Ek verstaan ook nie hoe dit werk nie. As ek na myself en my geslagsgenote kyk, kan ek nooit verstaan wat julle vroumense in ons sien nie, en tog raak julle nogal lief vir ons!
Hoe sal ek tog die liefde beskryf? Dis mos iets geheel misterieus. Jy kan dit nie vasvat nie, en jy weet nie hoekom die vonk nou juis tussen dié besondere twee mense ontstaan het nie. Maar boeta, as die vonk eers ’n vlammetjie aangesteek het, kan jy maar vergeet. Jy kry hom nie geblus nie, al wil jy ook. En dis reg so, want dit is waar ’n wonderlike, lewenslange verhouding begin. Ek dink toe Adam daardie eerste dag in die Tuin van Eden vir Eva gesien het, het daar ook ’n vonk tussen hulle gespring. Wonderlik. Ag, ek wens sommer ek is weer jonk, want nuwe liefde is mos altyd opwindend.
Ek is sommer lus en kom kuier by julle, dat ek dié Nashti-meisiekind kan ontmoet. As sy Adoniram se knieë lam maak, moet sy oulik wees.
Jou vriend Salomo
Views: 18