Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land? (vers 4)

Wanneer alles wat vir jou lief en dierbaar is, van jou weggeneem word, word jou emosies só ’n warboel dat dit jou feitlik verlam. Dit is wat in hierdie psalm gebeur. Die digter dink terug aan hoe hulle geliefde stad en tempel verwoes is. Hy wil nie – kan nie! – die lied van Sion sing nie; sy hart is te stukkend, en hy is boonop vir God kwaad omdat hy die idee het dat God heelwat met die saak te make het.
In sy smart soek hy vergelding en begeer hy sy vyand se ondergang.
’n Mens wonder wat om met so ’n psalm vandag te maak. Ons glo immers dat die wraak ons nie toekom nie (Romeine 12:19); ons moet dit in God se hand los. Jesus het ons ook geleer dat vergelding nie pas by sy volgelinge nie, maar dat ons die ander wang moet draai (Matteus 5:39).
Wat belangrik is, is dat hierdie psalm deel is van die liederebundel van Israel en van ons. Iewers in die digter se ontreddering het hy nie sy geloof verloor nie, maar na God gedraai, by Hom gekla en by Hom troos gesoek.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.