Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin. (vers 4)
’n Mens wil-wil vir Saul jammer kry, want sy laaste dag was een uitgerekte marteling. Hy sien hoe Israel die geveg teen die Filistyne verloor, en hoe sy drie oudste seuns sneuwel. In uiterste wanhoop neem hy sy eie lewe, wel wetende dat hy ’n vreeslike dood sou sterf as die Filistyne hom lewend vang.
Dit is egter so dat hy die moontlikheid gehad het om ’n groot leier vir Israel te wees. Die Here het hom immers self gekies om koning te wees en met sy Gees toegerus. Maar sy eie prioriteite het swaarder geweeg as gehoorsaamheid. So het hy eers Samuel se ondersteuning verloor, en daarná ’n obsessie ontwikkel oor Dawid. Dit het gekulmineer in sy opdrag om al die priesters van Nob en hulle gesinne uit te wis. Daarmee het hy alle brûe terug na God verbrand.
’n Mens kan nie God se stem in jou lewe stilmaak en Hom ignoreer, en dan verwag Hy moet vir jou intree as jy in die moeilikheid beland nie.
Ja, God is altyd daar vir ons, mits ons naby Hom leef.
_Naskrif:_ Môre begin ons met die Brief aan die Kolossense