Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra. (vers 15)
Jesus se gelykenis van die saaier dwing ons om onsself te ondersoek oor wat ons met God se Woord maak. Want nie almal wat die Woord hoor (of lees), vind daarby baat nie. Daar is mense wat daagliks die Woord lees, en tog steeds baba’s in die geloof bly. Daar is teoloë wat daagliks die Woord bestudeer en tog ophou glo.
Dit gaan oor die manier waarop jy luister en lees. ’n Opregte hart is nodig, sê Jesus, en volharding.
’n Skeptiese, siniese hart gaan nie die Woord laat ontkiem nie. Te veel moderne Bybellesers trap in dié slaggat en meet die Bybelboodskap aan hulle eie verstand. So ’n arrogante lees van die Bybel bring geen seën of geloofsgroei nie.
Ander goedbedoelende lidmate lees Bybel en gaan kerk toe, maar bewaar nie die Woord in hulle hart nie. Hulle dink nie weer daaroor nie, of gryp net die mooi tekste van troos of beloftes vas.
Dis eers as jy die Woord in jou hart koester, daaroor nadink en daarop reageer, dat die Woord in jou lewe vrug dra.