(Laban) het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is. (vers 26)
DÃt is nie ’n beskuldiging wat ’n gelowige behoort te kry nie, veral nie as dit boonop nog waar is nie!
Jakob kan nou maar eenmaal nie sy agteraf streke los nie. God belowe dat Hy vir hom sal sorg (vers 3 en 13), en tog tree Jakob op asof God hom niks belowe het nie. Hy steek sy vrouens teen hulle eie pa op en gee dan soos ’n skelm pad op ’n tyd toe Laban nie tuis is nie.
Ook die huisgode wat Ragel van haar pa gesteel het (vers 19) om hulle op pad te beskerm, getuig van ongeloof, asof God alleen nie genoeg is nie.
Jakob het deur die jare op talle maniere geleer dat God met hom is en hom seën. Hy erken dit in soveel woorde (vers 5b, 7b, 9). Maar uit sy optrede sou ’n mens dit nooit kon raai nie. En ná ’n huwelik van 20 jaar het Jakob se geloof in God alleen nie afgegee op Ragel nie.
’n Mens het nie ’n getuienis teenoor ander as jy self nie leef soos jy glo nie.