Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien. (vers 37)
Ons weet almal Jesus kom eendag weer. Hy het dit in soveel woorde belowe (kyk o.a. na Joh 14:1-3). Die ding is net, Jesus is al twee duisend jaar gelede terug hemel toe, en steeds kom Hy nie terug nie. Dit maak dat ons maklik kan dink Hy gaan tog nie in ons leeftyd kom nie.
Dis net hier waar ons die fout maak, want as ’n mens só redeneer, raak jy laks, soos Jesus met die gelykenis van die waaksame slaaf waarsku. Dis dan dat ’n gelowige rustig agteroor sit en niks in die koninkryk doen nie, want Jesus talm om terug te kom. Nee, die Here verwag van ons om werksaam te bly, al wag ons hoe lank.
So, máák daardie oproep. Besoek daardie sieke. Ontferm jou oor die een in nood. Bring die evangelie. Volhard in die geloof. Wees altyd bly. Wees in alle omstandighede dankbaar. Bid sonder ophou …
Ons wil tog nie eendag by die ontroues (vers 46) gereken word nie!
Views: 6