Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.” (vers 5)
Jesus praat hier met sy dissipels oor die plig om te vergewe (vers 4). As ek sien hoe sukkel mense soms om te vergewe, is dit nie vreemd dat die dissipels dan vir meer geloof vra nie. Dis asof hulle sê as hulle net meer geloof gehad het, sou hulle kon vergewe. Dis dán dat die Here van die moerbeiboom praat wat sal vlieg.
Jesus sê daarmee hulle het die kat aan die stert beet. Hulle wag vir een of ander wonderwerk wat hulle in staat moet stel om ander te kan vergewe, maar ’n mens het nie meer geloof nodig om ander te vergewe nie. Hy vra immers nie van ons om moerbeibome in die see te gaan plant nie. Hy vra van ons om mekaar te vergewe. Daarvoor het jy net gehoorsaamheid nodig.
Vergifnis gaan nie om geloof nie. Dit gaan om gehoorsaamheid. Jesus sê: moenie sit en wag dat iets wonderliks gebeur sodat jy in vrede met ander kan leef nie. Rol jou moue op en begin net.
’n Groot deel van ons navolging van Jesus is nie soseer ’n saak van groot geloof nie. Dis doodeenvoudig ’n saak van gehoorsaamheid en gewilligheid.
Views: 2