Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. (vers 24)

Pilatus het geweet Jesus is onskuldig; trouens, hy het dit self drie maal gesê (vers 4, 14 en 22). Selfs Herodes Antipas kon nie skuld in Hom vind nie (vers 15). Tog stuur Hy Jesus na Golgota. Sy eie politieke posisie, sy vrees vir die woedende Jode en sy gerief weeg swaarder as reg en geregtigheid.
Ons Here is gekruisig omdat Pilatus eiebelang gekies het en teen sy beterwete in ’n onskuldige laat doodmaak het en ’n moordenaar vrygelaat het.
Gedienstigheid, selfsug, kruiperigheid, vrees, gierigheid, populariteit – vandag nog maak mense keuses om al die verkeerde redes. Ons sien dit in die politiek, by die werk, selfs tussen vriende. Die maklike uitweg is egter meestal die verkeerde een. Ons keuses as gelowiges mag nooit deur eiebelang gemotiveer word nie. Nee, ons keuses moet gewortel wees in die Christelike waardes van liefde, waarheid, nederigheid, bedagsaamheid.
Tot vandag toe stink Pilatus se naam omdat hy ’n swakkeling was wat nie wou opstaan vir wat reg is nie. Spreuke 22:1 sê: “’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud.”
Op grond waarvan maak jý jou keuses?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.