Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. (vers 11)
Die kerkvader Augustinus het gebid: “Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil.” Dis natuurlik waar op alle terreine van ons geestelike lewe – geduld, liefde, omgee … Dis ook waar van ons geldsake. God verwag nie van ons om offers te bring wat ons nie het nie, soos Paulus in 2 Kor 8:13 geskryf het. Nou sê hy: God gee vir ons genoeg sodat ons kan gee wat ons behoort te gee.
Dankoffers is niks anders nie as ’n daad van geloof. Ek gee aan God wat Hom toekom in die geloof dat Hy in sy oorvloed aan my sal voorsien wat ek nodig het, en sodat ek met ’n oop hand kan leef. Daarom herinner hy ons ook daaraan dat iemand wat karig saai, min sal oes, en iemand wat volop saai, volop oes (vers 6). God se ekonomie werk anders as wat ons verwag. Hoe meer jy uitdeel, hoe meer ontvang jy van Hom.
Die vraag wat ek en jy moet beantwoord, is dit: Vertrou jy God genoeg? Vertrou jy Hom om vir jou te sorg na die mate wat jy sy gawes aan ander uitdeel?
Views: 46