Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. (vers 21)
Verwarring, teleurstelling, ’n warboel van emosies. Dís hoe die dissipels was op daardie eerste Paassondag. Eers ontdek Jesus se ma en haar vriendinne dat die graf leeg is. Twee engele vertel hulle dat Jesus uit die dood opgewek is (vers 6) en herinner hulle aan Jesus se woorde. Maar die elf glo hulle nie en is eerder ontsteld (vers 11 en 22). Dis sommer ouvroustories.
Petrus gaan kyk tog en sien die leë graf, en gaan verwonderd terug. Maar steeds glo hulle nie, want Jesus verwyt hulle oor hulle twyfel (vers 25 en 38).
Die Emmaus-gangers verduidelik die probleem. Hulle het gehoop Jesus was die Een, maar Hy was toe nie, het hulle besluit. Hy is dan dood en begrawe.
Dalk sukkel jy ook daarmee – dat jy die Here vooruitloop en teleurgesteld raak as dinge nie dadelik regkom nie – as jou vurige gebede nie dadelik uitkom nie, die stukkende verhouding nie oornag heel nie, jou finansies ’n gemors bly. Jy het so gehoop God sal iets doen, en kyk nou!
Dis waar ons vertroue dat God weet wat Hy doen, nodig het.
Geseënde Paasfees!
Views: 12