Ek sal ook aan u die loon betaal wat u vir u arbeiders vasstel … (vers 6)
As jy begin somme maak oor wat die tempel gekos het, draai jou kop. Só ’n duur tempel sou nie vandag moontlik wees nie. Maar Salomo het geen onkoste en moeite ontsien nie. Net die beste was vir hom goed genoeg. Hy gee aan Hiram ’n blanko tjek (en het uiteindelik meer moes betaal as waarop hy gereken het). Derduisende mense is in diens geneem (en gedwing) om die tempel te bou.
Uiteindelik was die tempel ’n fantastiese kunswerk, asembenemend grandioos, soos baie kerke wat oor die eeue opgerig is. En God seën die tempel met sy teenwoordigheid (1 Kon 8:10-11).
Dit behoort vandag nog so te wees – wanneer dit by die glorie van God kom, mag ons nie kompromieë maak nie. Niks minder as ons beste is goed genoeg nie. Dit verduidelik die Here Jesus vir ons met sy woorde aan die ryk jongman (Matt 19:21), en met die gelykenis van die waardevolle pêrel, waar die handelaar alles wat hy het, gegee het (Matt 13:46; sien ook Luk 14:33).
Die ding is, in sy handelinge met ons het God niks teruggehou nie. Hy het sy enigste gegee (Joh 3:16).