Wees ons genadig, Here, wees ons genadig; want ons het meer as genoeg gehad van minagting … (vers 3, 2020-vertaling)
Een van die oudste kerklike pleitbedes is die woorde van vers 3: “Kyrie eleison!” Here, wees ons genadig! Ons het u genade nodig, ons het U nodig!
Talle geestelike liedere is op dié bede gebaseer. Dit is ’n standaard deel van die Latynse liturgie-teks. Dit is ook in die Liedboek van die kerk opgeneem in liedere 242, 243, 246, 247 en 248. Ons sing dit gereeld as antwoord op die Here se aanspraak op ons lewe. Ons het niks om te gee nie. Ons is bankrot en leef uitsluitlik uit die genade, die ontferming van God.
Die digter vergelyk homself met ’n slaaf of slavin wie se oë vasgenael is op die eienaar se hande. ’n Slaaf het geen regte om op aanspraak te maak nie. Die eienaar moet intree, of voorsien, of beskerm, of lei.
Hiermee verwoord die digter ons diepe afhanklikheid van die Here God. Dís hoe ons leef elke dag: met ons oë op Hom gerig. Hy is die een wat vir ons in die bresse moet tree as die lewe (en hooghartiges, vers 4) vir ons een te veel word.
Here, wees ons genadig!
Views: 27