God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder. (vers 2)
God, en net God, kan uitkoms bring (vers 1). As ’n mens dít ervaar, breek daar onwillekeurig ’n loflied oor jou lippe, verander vrees na vertroue.
Die water uit die fonteine van redding (vers 3) is beeldspraak vir die verlossing wat God gee. Hy het só vir sy volk in die woestyn voorsien tydens die uittog. Daarná voorsien Hy steeds deur tydelike en geestelike seëninge, sodat die psalmskrywer (Ps 36:9-10) kan uitroep: “U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.” Jesus het later hierby aangesluit toe Hy uitgeroep het (Joh 7:37): “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”
Iemand wat Jesus se uitnodiging ernstig geneem het, kan saam juig oor God se goedheid en voorsiening. Vir só iemand is Hy die redder.
Dalk moet jy hierdie paar verse weer rustig lees en saam met die inwoners van Sion voor God jubel en juig. Groot is die Heilige van Israel, en Hy is by jou!
Views: 181