Jy wat die helder môrester was, het uit jou hemel geval. Jy wat ’n oorwinnaar van nasies was, is in die grond in verpletter. (vers 12)
Vers 12-15 is deel van ’n spotlied waarin die ondergang van Babel besing word. Die betekenis is eenvoudig: die koning het homself as ’n god beskou en gedink hy kan saamgereken word met die Allerhoogste self, maar hoogmoed kom tot ’n val, en uiteindelik sal daar van die magtige Ryk van Babel niks oorbly nie.
“Môrester” is in die Latynse vertaling “Lucifer”, en na aanleiding van Jesus se woorde in Luk 10:18 (“Ek het Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val”) is hierdie spotlied op Satan toegepas. Die ooreenkoms is duidelik.
Martin Luther het Satan “God se aap” genoem, omdat hy steeds probeer om soos God te wees, maar dit nooit regkry nie. Die ware helder Môrester is natuurlik die Here Jesus, soos Hyself in Op 22:16 bevestig: “Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”
Geen koninkryk, hoe indrukwekkend of magtig ook al, is blywend nie. Net die Here Jesus se koninkryk sal altyd bly staan, en sý heerskappy strek oor alles en almal, ook oor jou en my vandag.
Views: 61