Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig, sy hulp van die Heilige van Israel verwag. (vers 7)

Midde-in die aankondiging van die totale vernietiging van Damaskus en Efraim (dit wil sê die noordelike stamme van Israel) vind ons hierdie juweel in vers 7 en 8. Te midde van die uiterste ellende en ondergang kondig die profeet aan dat die geloof in die lewende God sal bly voortbestaan, of dan, weer sal posvat. Mense sal hulle weer na God toe draai en wegdraai van die afgode.
Presies dít is die rede vir die ellende – dit is God se instrument om sy mense terug te roep, sodat hulle weer hulle hoop op Hom kan vestig. God is immers nie ’n wrokkige, wrewelrige God wat mense wil bykom en hulle hulle verdiende loon laat kry nie. Hy is oneindig geduldig met ons, en Hy bly hoop, soos in die gelykenis van die verlore seun (Luk 15:20), dat die weggedwaaldes sal terugkeer na die enigste Een wat werklik vir hulle omgee. Dis wat in 2 Pet 3:9 ook staan: “Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
Ons aanbid ’n wonderlike God!

image_pdfimage_print

Views: 40

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.