Juda het haar gesien en gedink sy is ’n prostituut. […] Hy het na haar toe uitgedraai … (vers 15-16)
Hoekom staan Juda en Tamar se verhaal in die Bybel?
Vir ’n antwoord moet ons begin by hulle nageslag. By die groot koning Dawid, en veral by Jesus Christus. ’n Mens sou verwag dat God die voorgeslagte van sy Seun versigtig sou uitkies: die kuisste, slimste en beste kind van Jakob. Of dan, soos die reg destyds bepaal het, die oudste. Maar Juda het nie aan een van hierdie vereistes voldoen nie. Hy is bygelowig, vang dom dinge aan, en het geen beswaar om ’n prostituut te besoek nie. Daarby is hy nog ’n teksboek-voorbeeld van dubbele standaarde. En Tamar? Sy pleeg bedrog en bring die familie in die skande.
En tog kies die Here juis húlle twee om voorouers van Jesus Christus te wees (Matt 1:3). As ’n egpaar vandag ’n kind wil aanneem, laat die owerheid deeglik navraag doen oor wie en wat hulle is. Dié twee sou dit nie gemaak het nie.
Maar – by God maak hulle dit. God kies nie mense omdat hulle wonderlik is nie. Hy kies hulle uit genade. Dis hoe dit kan wees dat ek en jy dit óók by God maak.
Views: 22