So sê die Here my God: Ek gaan in Sion ’n klip neersit, ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie. Ek maak geregtigheid die maatstaf, regverdigheid die toets. (vers 16-17a)
Die Here ontmasker by monde van Jesaja die geestelike leiers in Jerusalem as vals en ligsinnige dronkaards (vers 7-8). Hulle dink hulle is baie slim deur die bondgenootskappe wat hulle gesluit het met Assirië én Egipte (vers 15), maar dit gaan in hulle gesig ontplof en hulle niks baat nie (vers 17b-18).
Met sulke leiers is ’n volk verdoem. Daarom gaan die Here hulle vervang met iets totaal nuuts. As hulle wil oorleef in die komende krisis, moet hulle op God vertrou. Die toets wat Hy aanlê, is reg en geregtigheid: Hy maak die reg ’n maatlyn en geregtigheid ’n skietlood (vers 17, 2020-vertaling).
Reg en geregtigheid gaan hand aan hand. Die regte verhouding met God mond uit in ’n opregte verhouding met my medemens. Dit het Jesus ook mos gesê toe Hy gevra is oor die grootste gebod in die wet: jy moet God liefhê, en jou naaste (Matt 22:37-40). Die vraag is of ons dit glo en leef.