So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. (vers 15)
Die agtergrond vir dié uitspraak is die dreigende gevaar van die naderende Assiriese gevegsmagte. Die kusstede Tirus, Askelon en Ekron is platgevee, en die stad Samaria is verwoes. In Jerusalem het die groot voorbereidings vir die onafwendbare aanval begin. Hulle het die stad versterk, die watervoorsiening herbeplan en wapens gereed gekry (2 Kron 32:1-5).
Die plan was om Egipte te vra om hulle te kom help (Jes 30:1-5). Dit is wat koning Hosea van Samaria probeer het. Jesaja se raad was om die Here te vertrou. In plaas daarvan om rond te skarrel moes hulle tot rus kom in die Here (vers 15). Hiskia het geluister (2 Kron 32:20) en is nie teleurgestel nie.
Dis nie aldag maklik om in die Here te rus terwyl jy om jou sien hoe dinge verkeerd loop nie. Jesaja is ook nie by ons om ons raad te gee nie. Maar die Gees van God is! Hy lei ons immers in die volle waarheid, soos die Here Jesus belowe het (Joh 16:13; vgl Ps 25:5 en Efes 1:17-18).