Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby. (vers 27)
Dalk voel jy ook in dié dae so. God is ver te midde van die pandemie. Jy sien dan so niks van sy heerskappy nie. Maar dis nie waar nie, sê Jes 40. _“Julle God is hier! Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer.”_(vers 9,10)
Dit lýk maar net of God afwesig is. Hy is net op ander maniere as wat ons gedink het by ons teenwoordig. Ons God sál uitkoms bring. Dis die boodskap van Jesaja. Hy het ons wat soos skape gedwaal het, nie aan die godverlatenheid van die wildernis oorgelewer nie, maar ons soos ’n herder kom versorg (vers 11).
Die probleem is natuurlik dat ons Herder nie die voorblad van die koerant haal nie – eerder die bose en vernietigende magte. Maar die Herder is hier by ons. Sit jou geloofsbril op, kyk met verhelderde geestesoë om jou: dis die ruimte waarin die Herder werksaam is. Daarom sê Jesaja (vers 9): Moenie bang wees nie, julle God is hier – óm jou, binne-in jou. _Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my_ (Ps 139:5, 2020-vertaling).