Moenie bang wees nie, wurm Jakob, mense van Israel, Ek is die Een wat jou help!” is die uitspraak van die Here. “Jou losser is die Heilige van Israel.” (vers 14, 2020-vertaling)
Dié hoofstuk skets die kontras tussen die nuttelose afgode en die almag van God. Dit wat mense fabriseer om vir hulle sekuriteit te bring, beteken niks, terwyl God die Een is wat die gang van die geskiedenis bepaal en bestuur (vers 1-7).
God is in beheer: “Ek is by jou … Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (vers 10; kyk ook na vers 13-15).
Vers 14 sê ook: “Jou losser is die Heilige van Israel.” Die begrip “losser” kom uit die familiereg, waar die naaste familie verplig was om in te tree vir die een wat in nood is. Die Here sê Hý is Israel se naaste familie! Hy is ook die “Heilige van Israel” – Hy, die Heilige, verbind Hom aan die sondige, gevalle Israel. Hulle is sý mense. Hy skaam Hom nie vir hulle nie.
Ons sien dit in die deernis waarmee die Here Jesus mense hanteer het.
God het Hom ook aan jóú verbind. Dit is die evangelie.
Views: 49