Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red. (vers 4)
Jesaja praat hier met Jode wat dink die gode van Babel is magtiger as Jahwe. Hulle is egter niks anders nie as uitgedinkte afgode. Jy kan hulle ronddra en verskuif, maar dis ook al. Hulle kan jou nie help nie.
God is nie so nie. Hy dra jóú. Jy kan Hom nie met iets of iemand vergelyk nie (vers 5).
Miskien wonder jy wat dit met ons te doen het. Jy het nog nooit ’n ander god aanbid nie. Dis waar ons die fout maak. Calvyn het gesê die mens is ’n afgodsfabriek. Alles waar ons ons hand aan slaan, alles wat ons met ons oë kan sien, alles waarop ons ons hart kan rig, dit alles het die potensiaal om ’n afgod te word. Want dit gaan oor die vraag: wat is in die finale instansie my anker in die lewe? Wat is die dinge wat my laat wakker lê? En wat is dit wat ek glo my probleme sal oplos?
Wie, of wat, dra jou deur die storms van jou lewe?