Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het. (vers 6b-7)
Hoekom word ons opgeroep om te bid en die Here aan sy beloftes te herinner? Nie omdat ons, soos in Jesaja se tyd, bang is dat God ons dalk vergeet het nie. Ons herinner die Here aan sy beloftes omdat ons verlang na die dag wanneer Hy alles en in almal sal wees, dié dag wanneer elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely: “Jesus is Here!” tot lof van die Vader.
Iemand wat ontdek het dat Jesus die Hoop van die wêreld is, só iemand kan nooit ophou droom en verlang en bid en werk sodat ander dit ook sal ontdek nie. Want Christus het tog nie mens geword net sodat ek en my huis verlos kan word nie. Hy het mens geword vir ’n wêreld in nood, ’n wêreld sonder God en sonder hoop. Dáárom moet ons die Here aan sy beloftes herinner en nie stilbly nie!
Verlang jy, droom jy van die dag wanneer Christus weer sal kom om alles nuut te maak?