U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. (vers 4)
Met die lees van hierdie psalm kan ek nie heeltemal met Dawid se smagtende verlange na God (vers 2) saampraat nie. Ek het nog nooit só na God gedors nie. Jy dalk ook nie. Ja, soms voel jy ver van God af en wens jy Hy wil ingryp in jou situasie en dinge verander. Maar eintlik weet jy mos dat God naby is. Jesus het dit immers beloof. “Ek is by julle al die dae, tot die voleinding van die wêreld,” het Hy gesê toe Hy hemel toe is (Matt 28:20). Paulus herinner ons ook daaraan in Fil 4:5: “Die Here is naby.”
Ek dink nie ons besef aldag die ongelooflike voorreg dat ons in die tyd ná Pinkster leef nie. God is nie net naby ons nie, Hy is nou ín ons deur sy Gees, wat ons Trooster is en vir ons pleit by die Vader (Rom 8:26). Ons is nie aan onsself oorgelaat nie!
Daarom kan ons met selfs groter oortuiging as Dawid bely: “U troue liefde is meer werd as die lewe.” Dis nou as ons aan Hom verknog is, soos vers 9 sê (2020-vertaling).