Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. (vers 41-42)
Hoe meer ek van Maria en Josef lees, hoe beter verstaan ek hoekom God juis húlle twee gekies het om die aardse ouers van sy Seun te wees. Ons het gister gelees van Maria se kinderlike opgewondenheid omdat God juis vir haar gekies het. En in Lukas 2 lees ons dit weer en weer: Josef en Maria was aan die wet getrou (vers 22-24, 39), en het gedoen wat van elke Jood verwag is deur elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe te gaan.
Ons het nie almal dieselfde spiritualiteit nie en word nie almal op dieselfde manier geestelik gevoed nie. Maar as een van jou geestelike voedingsbronne nie lê in die getrouheid aan die wet en in gereelde godsdiensoefening nie, gaan jy sukkel. Ek koop nie die storie dat jy die Here beter langs die viswaters as in die kerk kan ontmoet nie. As jy Hom nie in die kerk ontmoet nie, gaan die ontmoetings buite die kerk ook mettertyd minder verrykend wees.
Hoe help jou geloofsroetine jou om naby God te leef?