Hy het ons voorvaders beveel om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel. (vers 5-6)
In hierdie psalm beskryf die digter die tragiese gevolge as ouers nie die geloof aan hulle kinders oordra deur woord en daad nie. Dis byna onvermydelik dat die nageslag dan van God af sal wegdryf.
Die mense van Israel het opstandig geraak en geweier om die Here te gehoorsaam (vers 8), hulle het van sy wonders vergeet (vers 11-12), gekla (vers 18), leë beloftes gemaak om berou oor hulle sondes te hê (vers 36-37), en was ondankbaar (vers 42).
Hierdie dinge is in God se Woord opgeteken sodat ons nie dieselfde foute sal maak nie. Ons almal ken lidmate wie se kinders glad nie in God glo nie. Daar kan natuurlik baie redes wees. Een van die redes is dat hulle nie ’n voorbeeld van lewende geloof in die huis gekry het nie. Geloof is nou eenmaal nie iets wat slegs teoreties oorgedra kan word nie. Dit moet voorgeleef word.
Jou voorbeeld in die geloofsvorming van jou kinders en kleinkinders is onontbeerlik. Dank die Here dat Hy jou hierin gebruik.
Views: 5