Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou. (vers 27)
Die Bybel waarsku op talle plekke dat hoogmoed ’n mens tot ’n val bring (o.a. Spr 29:23). Hierdie vertelling onderstreep dit in dik hale. Nebukadnesar, die magtigste man op aarde, verloor alles omdat hy ’n groot kop gekry het (vers 30, 33). Eers toe hy erken dat dit God is aan wie die mag behoort (vers 37), word hy in sy eer herstel.
Niemand regeer as God dit nie in sy genade toelaat nie (Rom 13:1). Die skrywer van die boek Daniël wil met hierdie berig sy lesers bemoedig. God is die Een wat in beheer is. Hulle mag met hoop leef dat hulle nie vir altyd verdruk sal word nie. Ook vandag moet die owerhede weet dat hulle slegs by die grasie van God regeer.
Verder moet ek en jy die boodskap van die hoofstuk ter harte neem. Soos die Spreuke-digter in 3:34 waarsku: “Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is.” Hoogmoed pas nou maar eenmaal nie by God se kinders nie.
Views: 53