Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” (vers 35)
Gestenig, en dit omdat hy op die sabbat hout bymekaargemaak het? Dit klink darem baie erg. Hoekom het God dit beveel? Dit was darem seker nie ’n doodsonde nie?
Die antwoord is deels te vind in vers 30-31, waar dit gaan oor moedswillige sonde. Dit wil lyk of die man willens en wetens God se voorskrif oor die sabbat verontagsaam het; dalk – wie weet? – ondanks die ander se waarskuwings. Dis hoekom hulle hom na Moses en Aäron toe vat vir ’n beslissing.
Die Here se beslissing is buitengewoon straf. Hy wou dit baie duidelik maak dat sy voorskrifte nie maar net versoeke was nie, en daarom het Hy van hierdie man ’n voorbeeld gemaak. Die hele gemeente moes die vonnis voltrek, sodat hulle dit nooit sou vergeet nie. Dit herinner aan die dood van Ananias en Saffira (Hand 5:1-11).
Dit is vir ons ook ’n waarskuwing; ons wat mak geword het oor sonde en dink God sal maar net altyd weer vergewe. Jesus het tog daarvoor betaal. Ja, met sy lewe! Daarom durf ons nie ligtelik oor sonde dink nie. Veral nie ons eie nie.
Views: 10