By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?” (vers 24)
Die tempelbelasting waarvan die amptenare gepraat het, was ’n versoeningsoffer wat elke manlike Jood ouer as 20 jaarliks moes betaal (vgl Eks 3-:11-17). Dit was bedoel om sondaars se verhouding met God te herstel. Natuurlik het Jesus geen versoening nodig gehad nie, en as Seun van God is Hy vrygestel daarvan (vers 26), maar tog betaal Hy die belasting ter wille van sy beeld by die mense (vers 27).
Die manier waarop Hy die nodige geld kry, is merkwaardig. Hy betaal die versoeningsoffer met geld uit ’n bron buite Homself, om daarmee enige gedagte dat Hy versoening nodig gehad het soos ander (sondige) betalers, in die kiem te smoor.
Ek dink ons kan twee goed oor dié voorval sê. Die eerste is, Jesus leer hiermee vir ons dat ons as kinders van God vry is van die wet van Moses en ons nie daardeur hoef te laat bind nie (vgl Rom 6:14). Die ander ding is dat Jesus regtig arm was. Hy het nie eers geld vir die tempelbelasting (twee dae se dagloon) gehad nie (vgl 2 Kor 8:9).