Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. (vers 12-13)
Soos Jesus (vers 5)! Ons moet soos Jesus word, en die Christus-himne (vers 5-11) spel dit uit – hoe Hy van Homself vergeet het, Homself in ons verloor het, Homself vir ons verneder het en vir ons kom sterf het.
Dit is waaroor navolging van Christus gaan: Alles wat jy is, wat jy doen en sê en nie doen en nie sê nie, moet Jesus naboots. Christen-wees beteken ’n leefstyl, ’n manier van praat en doen en dink en wees.
Paulus herinner ons dat Christen-wees nie net gaan om in Jesus te glo en daarom op pad hemel toe is nie. Dit mag nie net woorde bly nie; ons moet dit ook leef. Ons moet Jesus volg. Jy moet jou daarop toelê (vers 12). Die ou vertaling het gelui: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing.”
Christen-wees is nie vir lamsakke nie. Dit vra vasbyt. Dit vra dat jy elke dag, elke minuut, vir God moet kies en lewe, getrou in jou navolging van die Here Jesus. Want dis hoe Jesus geleef het, nie waar nie?
Views: 82