Toe Jesus dit hoor, het Hy met ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees. (vers 13)
Die Evangelies is nie net daar om ons te vertel van alles wat Jesus gedoen en gesê het nie. Dit wil ons ook vertel wie Jesus is; dit skets die eg-menslike kant van ons Here. Vers 13-21 is hiervan ’n wonderlike voorbeeld.
Die hoofstuk begin by die vertelling oor Johannes die Doper se wrede dood (vers 1-11), en die berig dat Johannes se volgelinge dit vir Jesus gaan vertel het. Jesus en Johannes was familie (vgl Luk 1:36), en die nuus raak Hom intens. Dit het Hom sekerlik (na sy mensheid) benoud gemaak oor sy eie einde. Dit, en sy hartseer oor Johannes se dood, laat Hom besluit om die stilte op te soek en ’n rukkie weg te kom van alles.
Helaas, dit was Hom nie beskore nie. Aan die ander kant van die see wag die skares Hom in. Hy het hulle innig jammer gekry en dadelik aan die werk gespring om hulle te help. Dit was later laat, en die dissipels vra Hy moet die mense wegstuur.
“Nie sonder kos nie!” was Jesus se antwoord. Want Hy gee om vir mense. Vir jou ook.
Views: 20